Filaflooi Nuusbrief
April 2009
In hierdie uitgawe:
- Filaflooi is nou hier te kry!
- Gediggies en taalontwikkeling – hoe werk dit?
- Skryf vir ons ‘n filaflooi gediggie.
Filaflooi het die jaar afgeskop met wonderlike blootstelling as gevolg van die artikel wat daar oor ons in die Maart uitgawe van Rooi Rose verskyn het.
Dit was vir ons heerlik om met julle te gesels en te hoor dat daar so ‘n groot behoefte bestaan vir Afrikaans en net iets moois vir kinders –
dit is wat ons wou doen en dit is ‘n riem onder die hart dat daar so baie van julle is wat saamstem.
Ons was ook by die Kunstefees op Oudtshoorn. Hoor wat skryf iemand in ‘n brief aan die ‘Krit’ (die feeskoerant) na hy ons stalletjie raakgeloop het :
"... ons het ons alternatief! Ons en ons kinders en kleinkinders kan nou hempies dra wat vir die wêreld wys ons het ‘n poëtiese en ‘n singende taal.
Ons hoef nie kru te wees nie. Ons kan nou hempies koop om hulle en ons taalgenote te leer om die mooi en fyn woorde van ons taal te waardeer."
Is dit nie mooi gestel nie?
1. Filaflooi is nou hier te kry!
Ons is bly om aan te kondig dat Filaflooi nou wyer beskikbaar is. Suzanne Burger (Durbanville, Bellville), Luzanne Mentz (Standerton) en Lise Janse van Rensburg (Pretoria) is ons drie nuwe verspreiders van filaflooi produkte. Hulle is almal mammas met ‘n buitengewone passie vir ons konsep en ns is baie bly om hulle as deel van die span te verwelkom! Kyk op ons webwerf www.filaflooi.co.za onder "Kontak Ons" vir hulle kontakbesonderhede. Vir enige ander areas kontak asseblief steeds vir Helena by helena@filaflooi.co.za of skakel Unita by 083 231 1422
Loer ook op ons produkte bladsy vir die besonderhede van winkels wat nou filaflooi aanhou.
Nuwe produkte
Ons het nou ‘n beperkte oplaag Engelse hempies vir dogtertjies beskikbaar. Die rympie sê:
"What are little girls made of? Sugar and spice, and all things nice. That’s what little girls are made of."
Dit is beskikbaar in 6-12 maande tot 2-3 jaar. Perfek vir daardie Engelse vriendin vir wie ‘n Afrikaanse rympie net nie gaan werk nie!
Die hempies is in pienk, olyfgroen of donkerblou beskikbaar.
En wat van iets vir jouself? Ingrid Jonker het die mooiste gedigte geskryf en ons het kopiereg verkry om twee van haar gedigte te gebruik op ‘n klein, medium en groot kortmou hemp in die damessnit. Kyk op ons webwerf onder die produkte bladsy na die rympies wat beskikbaar is. Die hemde is in pienk, donkerblou, ‘stone’ en wit beskikbaar.
Kontak ons of een van ons agente vir pryse.
Spesiale aanbod tot 20 Mei! Koop twee of meer kortmou kinderhempies en kry die dameshemp teen slegs R70! Noem asseblief in jou korrespondensie met ons dat jy van die spesiale aanbod wil gebruik maak.
2. Gediggies en taalontwikkeling
‘n Gediggie op ‘n filaflooi t-hemp is nie net mooi nie, dit kan ook een van die boublokke wees tot lees wat jou kind nodig het. Voor ’n kind kan leer lees, moet hy deur sy sintuie bewus word van ’n geskrewe woord. Hy moet die woord kan herken wanneer hy dit sien, maar ook moet hy ‘n betekenis aan die woord kan koppel wanneer hy dit hoor. Hoe weet ‘n kind wat ‘n woord beteken? Wanneer hy van babatyd af aan ‘n uitgebreide woordeskat blootgestel word.
Praat met jou kind. Praat en praat en praat – dis die enigste manier waarop hy woorde en hul betekenis kan leer. En lees onophoudelik vir hom. Wys vir hom prentjies en speel kinderliedjies. Leer hom ’n liedjies, rympies en gediggies en maak jul eie rympies op. Só brei jy sy woordeskat uit.
Navorsing het bewys dat ‘n goeie kennis van kinderrympies op die ouderdom van drie ‘n betekenisvolle verskil gemaak het in leesvermoë op ‘n latere stadium. Gebruik dus jou filaflooi hempie – nie net vir die mooi nie, maar ook om die geleentheid te skep om jou kind te leer wat op sy bors staan – buiten dat dit lees aanhelp, is dit ook ‘n definitiewe wenner wanneer Ouma en Oupa kom kuier!
(Bronne: ‘Praat jou kind slim’ www.thereadingclinic.co.za; ‘Die boublokke van lees’ – Teresa Coetzee in Baba en Kleuter.)
3. Kan jy iets moois skryf?
Ons is op soek na iets nuuts en oorspronklik vir ons Kersmark-seisoen hierdie jaar. Kan jy woorde ‘laat kantel tot ‘n nuwe samesyn’? Skryf vir ons ‘n kinderrympie van vier reëls – as dit ons laat ‘aaaahhh’ sê, is jy moontlik een van ons finaliste! Voorkeur sal gegee word aan rympies wat vir enige geslag kan werk. In ons volgende nuusbrief sal ons die top vyf rympies lys en julle (wat tog ons mark verteenwoordig) laat kies watter een julle sou koop. Die wenner sal die satisfaksie hê dat honderde (?) kinders hierdie kerstyd met sy rympie op die bors sal pronk. Ons gee ook tien hempies aan die wenner met sy eie rympie op (en in die groottes van sy keuse) om uit te deel. Die ‘kompetisie’ is oop vir almal – laat weet julle vriende en familie! Stuur asb. jou wen rympie na unita@patat.za.net om ons te bereik voor 20 Mei 2009.
Stuur gerus hierdie e-nuusbrief aan vir jou vriende en familie met ‘n passie vir Afrikaans en kinders. As jy hierdie nuusbrief deur middel van ‘n aanstuur ontvang het, registreer op ons webwerf www.filaflooi.co.za om dit gereeld te ontvang.
Filaflooi-groete tot ons weer gesels!
Helena Bester en Unita Slabber


