Filaflooi Nuusbrief
Mei 2009
In hierdie uitgawe:
Dit bly vir ons heerlik om van julle te hoor. Baie dankie vir almal wat vir ons briefies skryf, bel, SMS of fotos stuur. Ons het besluit die
klein Aspatatte wat filaflooi dra is net te oulik – ons moet dit met julle deel! Loer op ons webwerf se fotogallery vir die skakel wat
sê klein filaflooitjies en geniet die mooi fotos saam met ons. Stuur gerus ook jou eie, ons plaas dit graag.
1. Waarmee is ons besig?
Ons is die winter dalk sommer naby aan jou! Kom loer gerus in by een van ons ope dae. Ons is die 29ste Mei in Moorreesburg by De Oude Stoep koffiewinkel, 19 Junie in Durbanville en die 7de Julie in Richardsbaai. Kontak ons gerus as jy wil kom inloer en aanwysings soek of dalk self ‘n ope dag (in die Wes-Kaap) wil aanbied.
Baie welkom, Mignon du Plessis, ons nuwe agent in Polokwane. Kry haar details op ons webwerf en skakel haar om filaflooi produkte te gaan besigtig.
Ons is verder hard aan die werk vir ons Kersmark-seisoen – al die keurings vind nou plaas. Ons sal julle in ‘n latere uitgawe presies sê waar julle oral filaflooi produkte kan gaan soek vir die kerskous.
Ons het nou ‘n hele besending langmou hempies ingekry. Net reg vir die winter! Laat weet ons as jy ietsie wil bestel.
2. Wenners
Baie geluk aan die wenner van ons rympie kompetisie soos aangekondig in die vorige uitgawe. Sy is Marietjie Nel van Middelburg, die mamma van Benjamin. Die wenrympie gaan so:
| ek hou van goed met wiele |
| rugbyballe en reptiele |
| pappa se groot seun; weet jy wat? |
| ek bly maar net my ma se skat! |
Ons het reeds hempies beskikbaar wat met hierdie rympie gedruk is. Laat weet ons of een van ons agente as jy dit wil bestel.
Ons is verder baie opgewonde om aan te kondig dat ons 100ste persoon geregistreer het op ons webwerf om hierdie nuusbrief te ontvang. Dit is wonderlik vir ons om te dink dat daar al 100 van julle is wat graag op hoogte wil bly van wat hier by filaflooi aangaan.
Suzanne van Niekerk is ons 100ste filaflooier. Sy is die mamma van Jana (2) en binnekort is daar nog ‘n nuwe pienk (of blou?) voetjie. Dankie vir die ondersteuning, Suzanne, en ook julle ander! Suzanne wen ‘n gratis hempie om ons 100-status te vier.
3. Werk jy by die huis?
(*Toe ek pas tuis begin werk het, het iemand vir my ‘n artikel gestuur oor by die huis werk. Een van die punte wat behandel is, het die opskrif "Beam me up, Scotty" gehad – dit sinspeel daarop dat jy in 'n tuiskantoor enige tyd kan terugtrek in jou kantoor – selfs oor ‘n naweek! Dis vir my die lekkerste ding - soos ek nou hier sit en skryf is dit amper 9nm, maar die perfekte tyd vir my om nog ietsie gedoen te kry.)
Ek (Helena) werk al van die huis af in ‘n tuiskantoor sedert 1999. Vir Unita is dit meer ‘n nuwe ding – sy het maar hierdie jaar eers vir haar 'n eie spasie geskep. Ons wonder hoeveel van julle is mammas en werk by die huis? Julle sal seker kan ook getuig dat dit nie altyd maklik is nie – ‘n mens wil graag professioneel wees, die "regte" kantoorure hou en altyd op datum wees met jou admin, maar die vloei van die huishouding om jou laat dit dikwels nie toe nie. Die alleen-wees vang 'n mens ook soms, veral as jy vantevore deel was van ‘n kantooropset.
Ek het hierdie paar idees op die internet raakgeloop – hoop jy kan dit ook nuttig gebruik!
- Wanneer jy regtig iets moet doen wat jy vreeslik na opsien, stel jou selfoon om oor 15min af te gaan. Sê vir jouself as jy hierdie 15min alles insit om die taak te begin afhandel, kan jy daarna opstaan en ‘n koppie tee gaan maak. Dit werk! Omdat jy weet dis net 'n kort rukkie, sit jy sommer alles in. Voor jy weet is die onaangename taak iets van die verlede.
- Maak jou werkspasie vir jou lekker om na toe te gaan. Hoekom moet dit lyk soos almal sê 'n tuiskantoor moet lyk? Maak jou ruimte eie aan jouself. Persoonlik is ek mal oor my spasie na ‘n goeie skoonmaak-sessie. Al die stof is weg, my potlode is skerp en al die liasseerwerk gedoen. Nou kan ek weer volstoom voortgaan.
- Maak lysies! Wat goed werk is om 'n lysie te maak in die oggend van 3 dinge wat jy vandag moet doen. As addisionele bonus aan jouself, kan jy besluit die werksdag is verby wanneer die drie take afgehandel is. Nog beter: Moenie jou e-pos kyk voor die eerste taak afgehandel is nie.
- Om die alleen-wees te fnuik, het ek ‘n spesiale resep. As beloning vir 'n afgehandelde taak, mag ek ‘n vriendin bel en ‘n kwartiertjie lank gesels. Kontak met die "buitewêreld" doen wondere vir 'n mens se motivering! (Vandat ek met filaflooi besig is, voel ek egter nooit alleen nie – julle bel en julle e-pos – dis heerlik!)
Het jy ‘n lekker stukkie raad vir ons wat by die huis werk? Skryf gerus en laat ons weet!
(Idees vir die stukkie gekry op die webwerf www.productivity501.com)
4. Nog nuus?
Ons het GROOT nuus, en ons hoop om dit volgende keer met julle te kan deel! Weet net, filaflooi betree ‘n nuwe dimensie wanneer alles in plek val, so staal julleself!
Stuur gerus hierdie e-nuusbrief aan vir jou vriende en familie met ‘n passie vir Afrikaans en kinders. As jy hierdie nuusbrief deur middel van ‘n aanstuur ontvang het, registreer op ons webwerf www.filaflooi.co.za om dit gereeld te ontvang. As jy om een of ander rede NIE hierdie nuusbrief verder wil ontvang nie, laat ons ook asseblief weet sodat ons jou van die lys kan verwyder.
Filaflooi-groete tot ons weer gesels!
Helena Bester en Unita Slabber


