Filaflooi Nuusbrief
Junie 2009
In hierdie uitgawe:
1. Algemeen
Die winter is behoorlik hier in die Wes-Kaap. Vir baie beteken dit die 'stiller' seisoen, maar hier by Filaflooi is daar altyd iets om te doen! Dit was heerlik om julle te ontmoet by ons ope dae. Daar is nog een oor hierdie vakansie. As jy naby Richardsbaai woon, kom maak gerus 'n draai by Jack's Corner, Meerensee, op Vrydag, 10 Julie 2009 tussen 9vm en 12nm. (Sien www.jackscorner.co.za vir meer inligting oor hoe om daar te kom).
Michelle Swanepoel is ons nuutste agent - ja, filaflooi is nou ook beskikbaar in Newcastle! Kry Michelle se details op ons webwerf. Michelle is mal oor reis en 'n ook 'n adrenalien junkie. Sy glo in besig bly en betrokke wees by alles en nog wat. Haar besigheidtjie "Pampelmoes" het pas die lig gesien en poog om unieke kinderklere te verskaf. Filaflooi is so reg in Michelle se kraal!
2. Holderstebolder Soetpatat
Nee, dit gaan nie ook kook in die hardloop nie en ons is ook nie van plan om resepte te begin plaas nie! Ons wil graag met hierdie nuusbrief ook idees en nuwe besighede aan julle bekendstel. Hierdie maand het ons twee raakgeloop.
Holderstebolder het ontstaan uit Liesbet Gelderblom se passie vir Afrikaans en stories. Sy is 'n Afrikaanse onderwyseres wat graag by haar seuntjie 'n passie vir Afrikaans en 'n liefde vir lees wou kweek.
Holderstebolder is 'n webtuiste en 'n bymekaarkomplek vir ieder en elk wat passievol is oor Afrikaans. Die doel van die webtuiste is om Afrikaans te bevorder en ook oulike lesplanne aan onderwysers beskikbaar te stel. Onder die afdeling "Aspatatte" verskaf die webtuiste inligting oor Afrikaanse kleutertydskrifte, prettige opvoedkundige aktiwiteite en kinderpartytjies. Gaan maak 'n draai by www.holderstebolder.co.za - daar is 'n magdom Afrikaanse dinge om te ondersoek! Liesbet sê dat Holderstebolder vir haar 'n plek is om haar kreatiwiteit te kan uitleef en iets van die passie vir Afrikaans te kan oordra aan ander. Jy kan haar gerus direk e-pos by liesbet@holderstebolder.co.za.
Twee kreatiewe mammas het pas 'n besigheid begin genaamd Soetpatat. Elbé Kirsten en Nadia Tolken het daarin geslaag om iets unieks en handgemaak te skep. Hulle gebruik graag materiale wat ander mense uitgooi - soos hout en lap - en verwerk dit in iets spesiaal. Soetpatat maak oulike verrassingsakkies vir seuntjies en dogtertjies, pragtige handgeverfde speelmatte en voorskote vir oud en jonk. Dis regtig baie kreatief. E-pos vir Nadia by ntolken@webafrica.org.za vir fotos van hulle produkte, sowel as 'n pryslys.
3. Nuut by Filaflooi - winterrokkies
Daar is darem iets nuuts by filaflooi ook! Ons het pas ons winterrokkies bekend gestel. Dit is pinofourtjies van lekker dik "fleece" materiaal, beskikbaar in groen, rooi en ligblou en in die groottes 1-2 jaar, 2-3, 3-4 en 4-5. Elke rokkie se randjies is omgehekel en het 'n unieke appliekpatroontjie op die sakkie. Die rokkies is Unita se eie ontwerp en enige dogterjie lyk opvreetbaar oulik daarin!
Spesiaal vir ons bekendstelling kos die rokkies R140 elk, posgeld en verpakking uitgesluit. Laat weet vir helena@filaflooi.co.za indien jy meer wil weet oor die rokkies of as sy vir jou 'n foto moet stuur. Jy kan ook ‘n mussie of serpie by die rokkie neem in dieselfde kleur (R35 elk).
Ons hekelrokkies soos te sien op ons webwerf sal na die einde van die jaar toe weer beskikbaar wees.
Stuur gerus hierdie e-nuusbrief aan vir jou vriende en familie met ‘n passie vir Afrikaans en kinders. As jy hierdie nuusbrief deur middel van ‘n aanstuur ontvang het, registreer op ons webwerf www.filaflooi.co.za om dit gereeld te ontvang. As jy om een of ander rede NIE hierdie nuusbrief verder wil ontvang nie, laat ons ook asseblief weet sodat ons jou van die lys kan verwyder.
Filaflooi-groete tot ons weer gesels!
Helena Bester en Unita Slabber


