Filaflooi Nuusbrief
Desember 2009
In hierdie uitgawe:
Dit was 'n jaar vol hoogtepunte hier by Filaflooi – ons is so oorweldig deur die positiewe reaksie oor ons konsep. Ons het blootstelling gehad in 3 tydskrifte en sal nog in die "Your Business" tydskrif se Desember/Januarie uitgawe genoem word. Dit is vir ons die kersie op die koek, omdat dit 'n meer "ernstige" tydskrif is – dit sê darem iets doen ons reg!
Ons het goed gedoen by die Kersmarkte in die Wes-Kaap – alhoewel 'n mens tog die effek van die ekonomie kon sien op verkope. Dankie vir almal wat terugvoer gegee het oor markte – dit is, soos altyd, heerlik om van julle te hoor. Daar is nog een Kersmark oor waar jy Filaflooi kan vind – gaan loer gerus in by die NG Kerk Worcester-Oos se Kersmark (26 November tot 5 Desember) as jy ons dalk gemis het by die ander markte.
1. Filaflooi in 2010
Ons het opwindende planne vir die nuwe jaar – 'n paar nuwe produkte gaan die lig sien en ons het ook 'n hele voorraad van die hekelrokkies (uiteindelik) wat teen einde Januarie reg behoort te wees om verkoop te word. Ons het ook nuwe rympies sodat jou Filaflooi versameling kan groei! Ons hou julle op hoogte oor wanneer wat beskikbaar sal wees.
2. Vakansiepret!
Desember is tradisioneel vakansietyd! Ons hoop julle geniet die ruskansie saam met julle geliefdes. Ons sien uit om 'n paar filaflooitjies raak te loop – dis tog te lekker. Stuur gerus vir ons van julle vakansiefotos waar jou kinders filaflooi dra – ons plaas dit graag op ons webwerf.
Hier is 'n paar idees om jou kinders in die feestyd besig te hou. Dis lekker ook vir saamdoen!
- Moenie geskenkpapier koop nie! Koop bruinpapier of ongedrukte koerantpapier en laat jou kinders dit versier in 'n Kersfeestema. 'n Maklike (nie-morsige manier) is om inkleurprente met 'n Kerstema van die internet af te laai (kyk bv. by www.funschool.com), laat die kinders dit inkleur en uitknip en plak dit op julle pakkies.
- Bak koekies. Nie net is dit lekker om 'n blik koekies saam te neem op vakansie nie, maar julle kan dit ook vir Kersversierings gebruik deur 'n gaatjie in die deeg te maak voor jy dit bak.
- Laat jou ouer kinders 'n rympie skryf vir Filaflooi. Dit moet Afrikaans wees, slegs 4 reëls lank en lekker gemaklik klink op die oor. Enige onderwerp is gaaf, maar speel gerus met hierdie idees: Feetjies, kabouters, hempies gemik op oumas, speletjies wat kinders speel, hempies vir babas. Stuur dit gerus aan vir ons – wie weet, miskien gebruik ons dit!
- Hou 'n skattejag. Dis nie moeilik om 'n paar leidrade uit te dink en dit in die tuin te versteek nie. Vir kleiner kinders kan jy die leidrade in die vorm van prentjies teken. Die "skat" kan iets kleins wees, dit gaan meer oor die "jag"! Moenie dit te maklik maak nie, as hulle regtig 'n bietjie moet soek is dit meer van 'n uitdaging. As jy kan, begrawe die "skat" – dis groot pret om uit te grawe!
- Wanneer laas was jy by die biblioteek? Soek die afdeling (of vra die biblioteekkaresse!) waar boeke met besighouaktiwiteite vir kinders gehou word. Kinders kan dit sommer self deurblaai en besluit wat hulle wil maak. Nog beter: gebruik die gemaakte dinge vir Kerspresente. 'n Geverfde liewerheersbesieklip van Kleinboet op Oupa se lessenaar kan vir jare nog plesier verskaf.
- Op dieselfde trant kan kinders iets maak of 'n dosie versier waarin julle lekkers verpak en julle kan 'n paar van hierdie "presente" gaan uitdeel by 'n ouetehuis of hospitaal.
- Wissel julle opblaasswembadjiepret soms 'n bietjie af deur skuimbad by die water te gooi wanneer jy dit intap – nou kan die kinders swem en speel met die skuim!
- Dink groter as die gewone sandkasteel. Teken 'n groot kasteel se kamers uit op die sand en laat die kinders die mure bou – dit kan hulle die hele dag besig hou. Slaan jou sambreel in die "leefvertrek" op en kyk hoe die mure om jou verrys. Onthou om deuropeninge te los en wat van 'n grag reg rondom?
Stuur gerus hierdie e-nuusbrief aan vir jou vriende en familie met 'n passie vir Afrikaans en kinders. As jy hierdie nuusbrief deur middel van 'n aanstuur ontvang het, registreer op ons webwerf www.filaflooi.co.za om dit gereeld te ontvang.
As jy nie meer hierdie nuusbrief wil ontvang nie, stuur asb. ‘n e-pos na inligting@filaflooi.co.za met die woorde "kanselleer nuusbrief" in die onderwerpreël.
Ons gesels weer in 2010.
Groete!
Helena Bester en Unita Slabber

